Evan is hier!
Op 11 Januarie 2012 het Evan sy opwagting gemaak. 8 Dae vroeer as beplan en op Adél se verjaarsdag!
Toe ons die middag oppad hospitaal toe was het beide van ons gedink dis maar net ‘n vals alarm, maar soos hulle se “rather safe than sorry”. Ons sou die aand by Adél se gunsteling restaurant, Pascali’s, gaan eet het vir haar verjaarsdag, maar gelukkig het ons besluit om eers gou n draai by die hospitaal te gaan maak. Sommer net gou, net om seker te maak, voordat ons uit gaan die aand.
Ons het laatmiddag by die hospitaal aangekom en sy is dadelik opgeneem vir observasie. Ons het rustig gesit en gesels met die gebeep en geskribbel van die masjien wat haar monitor in die agtergrond. Steeds was ek redelik oortuig dat dit net n vals alarm was aangesien Adél baie rustig en gemaklik was. In die flieks is dit dan n geween en n gekners van tande wanneer n vrou in kraam ingaan!
Adel word gemonitor... niks vermoedend.
So om en by half 6 was die suster weer terug in die kamer en het sy vir lank na die drukstuk van die masjien wat vir Adél monitor gekyk. Die masjien het twee kontakpunte gehad. Een wat vir Adél monitor en een die baba. Die masjien het twee naalde wat beweging monitor en wat dan, net soos in die flieks, n wankelende lyn op n lang stuk papier maak. Die drukstuk wat die suster in haar hand gehad het get gelyk soos n profiel van ‘n bergfietswedren wat redelik plat is met n skerp styl klim tot op n piek elke af en toe. Sy het vir Adél gevra “Voel jy dit?” maar Adél het niks gevoel nie. Die suster het weer geloop maar was enkele oomblike later terug en het met haar hand op Adél se 37 week swanger maag gesit. Weereens het sy vir Adél gevra “Voel jy dit?”. Vir Adél het dit gevoel asof die baba skop, niks buitengewoon nie, maar die suster was redelik seker dat dit kontraksies was. My sekerheid dat dit net n vals alarm was het by die minuut begin wankel. Teen 6 uur het n tweede suster die kontraksies bevestig, is die dokter gebel en is die keiser geskeduleer vir 90 minute later! Ons was so effe geskok...
Reg vir die teater
Terwyl ek en Adél vroeer die middag in die hospitaal gesels het het ons n paar keer vir mekaar gese: “Dis seker maar net n vals alarm, maar as Evan nou besluit om op jou verjaarsdag te kom sal dit nogal wild cool wees!”. Maar, om eerlik te wees, wanneer die susters jou meedeel dat jou babatjie vanaand gebore gaan word skrik mens so bietjie. Een van die groot redes hoekom ons n keiser verkies het is juis omdat ons beplanners is. Dinge gebeur volgens n plan... dis maar net hoe ons is, en hier word daar vir my gese dinge gebeur nou! Tog, was ons beide kalm... of eerder relatief kalm. Bed besprekings moet geskuif word, privaat kamers moet betaal word, Adél se tasse moet uit die kar gaan haal word en dit alles terwyl die horlosie se wyser aanstap. Tog het dit alles gebeur en voor ons ons oe kon uitvee het was Adél ge-prep vir die keiser en het ons buite die operasie saal gewag terwyl die narkotiseer vir Adél presies verduidelik wat volgende gaan gebeur.
Half 8 was ons in die operasie saal en het die narkotiseer vir Adél die spinaal gegee. Dinge het baie vinnig gebeur en minder as 20 minute later was Evan gebore. Al 2.995kg van hom! Ek het lans Adél se kop gesit agter die skerm sodat ek nie kan sien as die dokter aan haar sny nie. Die dokter het wel vir my gese om op te staan en te kyk toe hulle vir Evan uit mamma se maag uithaal. Om dit te kon sien en daai eerste gilletjie te hoor is iets bitter besonders.
Die Esterhuizen gesin se eerste foto saam
Dis nou al amper 9 weke later en ja, ek skryf nou eers! Ek het n paar keer begin maar die woorde wou net nie werk nie... Dis so moeilik om ons emosies van daardie dag te beskryf en om op papier vas te vang wat klein Evantjie se koms regtig vir ons beteken. Dis juis die rede hoekom ek maar net besluit het om die verloop van gebeure vlugtig te beskryf, al is dit iets wat ek nooit sal vergeet nie! Dis lekker om iets te kan lees wat mens herhinner aan daai dag.
Wat ‘n besonderse verantwoordelikheid. Wat ‘n besonderse voorreg. Ons klein blou-oog is hier!






Comments
Post a Comment