'n Storie geinspireer deur twee strepies
Dit was n Vrydagmiddag toe ons vir die eerste keer gehoop het vir twee strepies. Dis snaaks hoe n mens jouself voorberei vir die ergste, tog, wanneer die resultaat negatief is kan jy voel hoe jou hart tot binne in jou skoene sak. Dit was die eerste keer wat ons n swangerskap toets gedoen het. Die teleurstelling was so groot dat die “Home pregnancy tests” vir die volgende twee weke heel onder in die kas bly le het. Maar, of dit nou nuuskierigheid of hoop of ‘n kombinasie van die twee was, dit het toe die beter van ons gekry en op 26 Mei 2011 het ek myself weer op dieselfde plek as twee week van tevore bevind... ‘n gewag vir twee strepies.
Nou, as daar een ding was wat ek nog nooit n probleem mee gehad het nie was dit om dinge nie te oordink nie. As daar n spreker by n funksie was en sy toespraak het begin met “clear your mind” was ek altyd klaar een stappie voor die ander. Hierdie geval was anders... dis n ewige 3 minute se gewag terwyl jou gedagtes in jou kop rond hardloop soos n boesman wat n volstruis eier gesteel het. Die sekondes tik verby met moeite en dan breek die oomblik aan... jy sien, maar jy sien nie, jy hoor, maar jy hoor nie, jy voel, maar jy voel ook nie. Ons oe is vasgenaal op dit wat ons die graagste wou sien; twee strepies! Dis doodstil terwyl ons staar na twee strepies wat meer betekenis vir ons inhou as einge iets wat ons al ooit ons oe opgele het. Ons was dadelik oppad Wilgers Hospitaal toe waar n bloedtoets alles bevestig het. Adel is 4 weke swanger! Ons was, en is nogsteeds, in ekstase!
Ons sommetjies het dadelik n paar dinge vir ons duidelik gemaak. Eerstens, dat die “home pregnancy test” nie baie akuraat is nie. Dis nogal een ding wat nie vir my lekker sin maak nie. Dis n Ja of n Nee. Twee strepies of een. Dis nie n verskrilikie ingewikkelde toets met 12 verskillende permutasies vir n oplossing nie. Dis doodeenvoudig... swanger of nie. Maar duidelik is n reguit antwoord te veel gevra aangesien Adel al swanger was met die eerste toets wat kamstig negatief was. Dit beteken ook dat Adel al swanger was toe sy die Mabalingwe Lion Man MTB gery het... al was dit net twee weke. Ek sien klaar ons het n wilde fietsryer wat oppad is!
Vir n hele ruk nadat ons uitgevind het was alles nog vir my vreeslik onwerklik. Jy verwag dat jy die volgende oggend gaan wakker word langs n vrou met n maag soos groot soos joune, maar tog is alles die volgende oggend dood normal. Behalwe vir die bietjie opwinding deur dit vir almal weg te steek vir die eerste paar weke was alles maar dood normal. Ons het besluit om eers op 12 weke vir die vriende die nuus te breek en moes voor dit maar slinkse planne beraam om dit stil te hou. Ek was nogal verbaas hoe slinks ons kan wees, eintlik bietjie bekommerd, aangesien niemand enige iets vermoed het nie.
Die feit dat ons swanger was was eers vir my werklik met ons eerste besoek aan die ginekoloog. Kyk, n man se eerste besoek aan die ginekoloog is maar bietjie ongemaklik. Jy weet dadelik jy is nie nou op jou tuisgrond nie. My beste raad aan myself was dat enige grappies van die tafel af is. Ek gebruik graag humor in ongemaklike situasies as n tipe van n verdedigingsmeganisme maar ek ken myself goed en daar is nie n manier dat enige grappie wat ek in hierdie sitausie kon maak enigsins van pas kon gewees het nie. Op die ou einde van die dag was die ongemaklikheid verniet. Een van die ongelooflikste oomblikke in my lewe was toe ek daai hartklop vir die eerste keer gehoor het. Things just got real!
Vier weke later het die dokter die woorde geuiter “dit lyk soos n boetie”. Ons het regtig nie omgegee of dit n seuntjie of n dogtertjie is nie maar het verwag dat dit n dogtertjie gaan wees gebasseer op ons “familie sommetjies” wat ons gemaak het. Ek was buite myself toe ek hierdie nuus hoor en binne n dag het ons bulletjie klaar sy eerste Blou Bul trui en twee Rugby balle gehad. Daar is wel nou net een van die balle oor nadat ek my eie Rugby vernuf bietjie weer in die tuin gaan beproef het. Ek moet se, ek is nog heel oraait... die bal is wel nie.
Tog, tot op hede het ons nog nie die 100% ja woord gekry op die seuntjie onderwerp nie. Ons staan steeds op 99.9%. Ons het juis vandag ons 20 weke ondersoek waar ons hopelik bevestiging gaan kry. Hierdie ondersoeke is op die oomblik die hoogtepunt van elke maand en dis nie lank voor ons elke twee weke gaan moet begin dokter toe gaan nie! Elke keer is dit ons DVD wat n nuwe video by kry en nog nuwe fotos! Die opwinding loop hoog maar die tyd loop maar stadig! Dis nog n hele lang gewag tot 19 Januarie 2012! Ek tel al die sekondes!


Comments
Post a Comment